Die Dros-verkragting: wie blameer jy?

alone-anxious-black-and-white-326580.jpgDie beweerde verkragting van die klein sewejarige meisietjie in Dros in Pretoria het skokgolwe deur ons land gestuur.

Elke ouer is meer paranois en meeste Suid-Afrikaners soek bloed – ek self heroorweeg my standpunt oor die doodstraf. Alhoewel baie van die feite nog uitstaande is is daar alklaar baie geskryf hieroor.

Ek is geskok om te sien hoeveel mense die oppasser, die restaurant, die ooggetuies en die ma blameer. Ek is veral teleurgesteld in die ouer generasie wat reeds kinders groot gemaak het en nou oumas of oupas is. Hulle is die wat die kind se ma die meeste blameer.

“Mens haal nooit jou oë van jou kind af nie  – dis die ma se skuld”. “Ek’s jammer maar jou kind is jou verantwoordelikheid”. “Ek sou nooit laat my kind alleen badkamer toe gaan nie” of die een wat my die meeste frustreer het is die insinuasie dat kinders net tjoepstil by die tafel moet sit by ‘n gesinsrestuarant “want dis hoe hulle maniere leer”.

Het julle dan so maklik vergeet? Of is dit omdat julle steeds vasklou aan die idee dat kinders gesien en nie gehoor mag word nie.

Die meisie is nie meer ‘n kleuter nie. Sy’s sewe jaar oud. Sy’s in gr.1 of miskien reeds in gr.2. Ek weet ek het as laerskoolkind alleen toilet toe gegaan en ek sou nie voor die voorval twee keer gedink het as my dogter op daai ouderdom self toilet toe gaan nie. Dis ‘n familie restaurant. Dis nie ‘n klub of wilde kroeg nie. Daar is ‘n speelplek vir kinders met ‘n oppasser en ouers kan genadiglik ‘n glas wyn drink en asem skep terwyl jy ‘n ogie hou oor jou kroos.

My dogtertjie word drie in Januarie. Sy is vol lewe en energie en word opgewonde oor alles en sy’s blitsig vinnig. Ek was al in ‘n restuarant en het afgekyk na my spyskaart om kos te bestel en toe ek weer sien is sy weg. Ons het reg langs die speelgoed-area gesit en sy was reeds besig om by ‘n glyplank af te gaan. Dit gebeur so gou en myne is maar nog ‘n kleuter maar iets kon in daai twee minute gebeur het, ek erken.

Daar is baie slegte ouers in ons land. Ons weet dit want ons lees gereeld van gevalle soos die Huis van Gruwels. Ek doen ‘n beroep op  Suid-Afrikaners, en veral die ouer geslag, moenie alle ouers kruisig nie. Moenie so vinnig vergeet hoe gedaan jy is of hoe besig die klein lyfies kan wees nie. Moenie vergeet hoe inkleur vir jou een kind ure besig sou hou maar jou ander een verkies het om boom te klim nie. Moenie vergeet dat daar pedofiele in jou tyd ook was nie. Gert van Rooyen is juis nou weer op almal se lippe en dit was in JOU tyd. Moenie vergeet dat die ouers ook ‘n slagoffer is en dat mens nooit die slagoffer kan blameer nie.

Ek het die afgelope week gesien baie mense sê “ek blameer die ma”. Blameer jy ook die vrou wie ‘n mini aangehad het en verkrag is? Die vrou wat te veel gedrink het maar steeds ‘nee’ gesê het? Die vrou wat skemeraand gaan draf het? As jou antwoord ja is, is jy deel van ‘n veel groter probleem. Dit is waarom so min slagoffers van seksuele misdaad klagtes lê want hulle is bang hulle word blameer.

Die enigste een wat skuld dra in die tragiese geval is die misdadiger. Nie eens sy familie of geliefdes kan geblameer word nie. Daar staan nie ‘monster’ op hulle voorkoppe geskrywe nie. Baie maal is hulle juis die sjarmante mense wat veral goed is met kinders.

Dink jouself in hoe daai ma van daai klein dogtertjie haarself verwyt. Ek beloof jou sy het onnoembare maal die afgelope week gedink “as ek maar net”.

‘n Onlangse studie in Suid-Afrika het bevind tot 35% van kinders in die land word seksueel mishandel voor hulle 17 jaar oud word.  Amper net soveel seuns is slagoffers as meisies. Een in drie kinders in die land word voor hulle 17de verjaarsdag aan een of ander seksuele mishandeling blootgestel. Die syfers is skrikwekkend. Tog is die meeste van die oortreders iemand wat die kind ken. Dis ‘n nefie, ‘n oom, ‘n onderwyseres, ‘n afrigter of ‘n maatjie se ouer. Die kans dat ‘n wild vreemdeling jou kind aanval, soos in die geval, is baie klein.

Die naweek het ‘n klomp van ons vriende gekuier en al die jong ouers het erken na die Dros-geval is hulle paranois. “Ek het vandag vir iemand gesê hulle mag nie na my kind kyk toe ek die stootwaentjie verby hulle stoot nie. Ek voel eintlik skuldig maar ek is so bang,” sê een van my vriendinne. Dis waar mens is baie skrikkerig maar so wil ek ook nie leef nie. Want hoe maak jy jou kind groot sonder om vir alles bang te wees maar steeds versigtig?

My hart is seer vir die kinders van ons land. Soms voel dit maak nie saak wat jy as ouer doen nie, jy nie jou kind kan beskerm nie. Ek weet ek kan nie 24 uur ‘n dag my dogter dop hou nie. Ek  probeer haar leer haar lyfie is net haar eie en ek bid en ek bid en ek bid…

 

 

 

8 gedagtes oor “Die Dros-verkragting: wie blameer jy?

  1. Baie dankie vir ‘n goed deurdinkte bloginskrywing. Ons almal loop op dun ys en hoeveel keer dank ek God vir soveel keer way Hy my kinders beskerm het wat ek dalk nie so wakker was nie. Soos jy sê, kinders is vinnig en mammas soms moeg en vinnig vinnig gebeur iets wat niemand wou gehad het nie.

  2. My meisiekind is al 16 en ek gaan nog steeds saam haar badkamer toe al is dit in n mall, met humantraficking waarmee ons saam leef, as sy dalk ontvoer was wie gaan hulle blameer, wanneer gaan ouers hulle verantwoordelikheid aanvaar. Ek was 12jaar oud toe iemand my ouers geskakel het en sexs dreigemente gemaak het, dit kom nie van vandag af nie, so wat ek wil sê is mense moet wakker wees of jou kind n dag oud is of sy 20 is wees maar wakker. Ons lewe in n siek wereld, en ja as sy saam haar kind geloop het het dit die hele situasie verander vir daai kind.

  3. Ons wêreld het so siek geword, opvoeding begin in n ouerhuis. Ek veroordeel niemand nie. Want dis nie my plek nie. Hierdie jongman se optrede is beslis siek. Wat het hom gemaak dink dat dit aanvaarbare optrede was. As hy wel skuldig is. Dit moet nog bewys word, ongeag wat ons hoor en sien. Ouers op die stadium in ons land soos dinge nou staan moet hul oë op hul kinders hou. Los jou kos en stap saam met jou kind, ongeag die ouderdom. Ongelukkig word ons geforseer om paraat te wees. Dis nie net oor verkragting nie. Ons hoor elke dag van kinders wat gesteel word. Leer jou kind om niemand te vertrou nie, al is dit nie hoe jy is nie. Dis vreeslik om so te moet leef, maar watter keuse het ons. Selfs as n volwasse vrou stap my man saam met my. Omdat ek ook soms onveilig voel. Ek is opreg jammer oor wat met die kindjie gebeur het. Ons kinders word daagliks aan geweld blootgestel. Kyk bietjie na die grootste probleem wat my persoonlike mening is, die programme wat uitgesaai word op jou tv in jou huis. Wat leer jou kleuter, tiener? Kinders word toegelaat om in volwasse geselsskap te sit en luister na gesprekke wat hul geen begrip van het nie. Hoekom doen ouers dit? Let dan op wat jy bespreek in jou kind se teenwoordigheid. Verduidelik aan jou kind wat aanvaarbaar en onaanvaarbare gedrag is. Elke kind het die reg om veilig en vry te kan speel. Maar ouers moet meer oplettend wees. Hierdie jongman, gaan n duur prys betaal, skuldig of onskuldig. En nog n jongmeisie se lewe is vernietig deur ons siek optrede van hierdie sameleweing.

  4. Ons kan nie sommer net se dit is die ma se skuld of die kind se skuld nie niemand weet verseker wat daar gebeur het behalwe die mense wat self daar was nie baie mense draai n paar woorde in die storie om eers is dit n 7 jarige dogtertjie dans glo n 6 jarige…. my hart bloei vir die dogtertjie ek kan myself nie eers in dink oor hoe haar ma moet voel nie al wat ons kan doen is om ons kinders op te pas tot die beste wat ons kan

  5. As Ek die oog getuie was sou ek wragtig saam die meisie badkamer toe gestap het en gemaak ek het of Ek haar ken! Hoe sien jy presies wat gebeur? Jy sien die man die kind be loer, jy sien hom Nader skuif, jy sien hom haar Agter vol! Is jy n Medepligtige???? Ek blameer Sy ouers en Blameer Die Ander ouers wat nou se hulle kinders was deur hom opgepas en Aangeraak!!! Hoe bly mens still? Hoe se mens niks? Ekt self n 6jarige dogter! As ons by n restaurant is en hule speel , as hule daai area ver laat USB’s ek onmiddelik by my kind ek hou haar dop en Sy gaan nerens sonder my nie!!!!

    1. Hi Michelle, daar is nog geen ander ouers wat vorendag gekom het en beweer hul kinders is ook gemolesteer deur hom nie. Dis ‘n plasing wat iemand uitgedink eht en versprei het

  6. Ek was nog altyd oorbeskermd teenoor my kinders. Waar hul gaan, gaan ek. Waar ek gaan, gaan hul. My seuns het ek saam my by my toilet ingevat toe hul klein was. Ek laat hul nie speel by n plek waar ek my oog op hul kan he heeltyd nie. As ons uiteet antwoord ek nie n foon nie, my oe is op hul gerug. Hul speel nie voor in die erf as ek ook buite by hul is nie. Hulle word nie na n kafee gestuur of na vriende nie. Hulle slaap nie oor tensy ons ouers baie goed leer ken. As daar partytjie is vind ek uit wie wat en waar en kyk dat ek self by die partytjie kan bly.In hierdie lewe vertrou ek geen man of vrou naby my kinders nie. So was dit nog altyd en so sal dit bly. My kinders is vandag grootmense en was nog nooit blootgestel aan so iets nie en ek is voorwaarlik dankbaar. Ek bly bedag want nou moet ek kyk dat my kleinkinders ook so mooi opgepas word. Ons kan nie die mamma die skuld gee nie, sy was tog in n familie eetplek waar sy tog n oog oor haar kind gehou het anders sou sy nie haar kind gaan soek het nie. Wat die skuld moet kry is die gemors siek ding wat hierdie kindjie en ander seergemaak het.

Lewer kommentaar