“Ek kon nie beweeg nie – ek kon net bid”

julianByna ‘n jaar gelede het Julian Redelinghuys gedink hy gaan verlam wees. Nou, byna ‘n jaar later het hy besluit om sy nommer 12 toks op te hang. Hy gaan nooit weer professionele rugby speel nie.

Die Springbok- en Leeustut het sy nek gebreek tydens die Curriebeker semi-finaal teen die Cheetah’s verlede jaar en sedertdien het sy lewe ‘n onverwagse wending geneem. Julian en sy vrou Sumari gesels met ons op hulle bank op die familieplot in Muldersdrift waar hulle woon. Hulle het sopas terug gekeer van bybelstudie. Sumari is ‘n dominee en sit styf onder haar man se arm ingewurm.

Julian het in Oktober verlede jaar sy C5/C6 nekwerwels gebreek toe ‘n duikslag oip hom uitgevoer is deur die Cheetah-speler Torsten van Jaarsveld. “Dit was die scaryste oomblik van my lewe. Ek kon nie beweeg nie – ek kon net bid,” onthou hy. Julian het op skool sy C7-nekwerwel beseer toe hy vir Hoërskool Monument uit gedraf het. Die dokters sê as dit nie vir sy vorige besering was nie, was hy moontlik dood. “My C7-werwel het ‘n vergroeisel gevorm en toe ek my nek breek toe hak C5 aan daai vergroeisel vas. So, die werwels het nie helemal uitgeskuif nie. Dit was ‘n halwe mm of ek was verlam, of erger …ek sou nooit dié poppie geken het nie,” sê hy en vryf oor sy ses maande oue dogtertjie, Chrismari se bos donker hare.

Julian se dokters het reeds ‘n jaar gelede gesê die risiko is te groot. “Hulle sê enige kontaksport… Ek kan net verkeerd op my nek val en dan is dit graf toe met my,” sê hy. Dokters het skroewe in sy nek gesit en sy C5-, C6- en C7-werwels is nou aan mekaar geheg. Sou hy dus weer ‘n nekbesering opdoen is die waarskynlikheid groot dat hy sy C1-4 werwels kan beseer wat tot verlamming kan ly. Die dokters sê sy rug lyk reeds soos die van ‘n man in sy 60’s. Julian is 28 jaar oud.

Na agt Springboktoetse en 47 wedstryde vir sy provinsiale span, die Leeus, is sy hart seer omdat hy nie meer in ‘n skrum kan sak nie. Hy glo egter groot dinge wag vir hom en sy gesin. “Ek was nooit kwaad nie. Ek het natuurlik gewonder hoekom dit moes gebeur maar jissie, ek en Sums het maar net hande gevat, gebid en daarmee gedeal,” vertel hy en druk sy skoolliefde se hand. Die twee was saam hoofseun en -dogter. Vriende en familie vertel almal hoe ooglopend dié twee se liefde vir mekaar is.

Julian vertel sy grootste vrees toe hy destyds besef hy kan nie sy bene voel nie, was hoe hy met sy toe ongebore kind sou speel. “Dit was my eerste gedagte. Wat van Sums en wat van Chrismari? Ek glo die belangrikste posisie is nie op die rugbyveld nie – dit is om ‘n te pa wees”. Sumari kyk na haar man en glimlag. “Ag, jy doen dit nog beter as wat jy rugby gespeel het,” skerts sy.

“Hy eet nogsteeds soos ‘n bees. Ons kan nie voorbly nie,” lag Sumari en hou ‘n bakkie biltong vir hom. Julian se skouers is merkbaar kleiner as ‘n jaar gelede. Hy het byna 10 kg verloor sedert hy beseer is. Alhoewel hy geen meer duikslae kan maak nie kom hy en oud skoolvriende minstens twee keer ‘n maand by mekaar om touchies te speel.

Is dit al wat verander het? “Ha, ek werk eintlik nou harder,” skerts hy. Julian het ‘n B.com Rekeningkundegraad en studeer nou finansiële beplanning daarby. Maar hy is ook steeds betrokke by rugby. “Ek help die Leeus en Monnas met voorry-afrigting. Veral die jonger spanne by die Leeus. Ek wil nou nie regtig vir my pel sê hy moet dit of dat doen nie,” sê hy. Hy is ook betrokke by die Leeus se bemarking en hoop om in dié posisie te kan groei. Maar mis hy dan nie rugby speel nie? “Ag baie….” Hy kyk af na sy voete en speel met sy groot hande wat krom staan van rugby beserings. “Ek het gedoen waarvoor ek lief was saam mense wat ek regtig van hou. Dit het nooit vir my soos werk gevoel nie,” sê hy. Hy’s weer vir ‘n tyd lank stil. “Ek dink die moeilikste is omdat ek nie op my eie tyd opgehou het nie. Ek het baie bereik, maar ek was nog nie reg om dit op te gee nie”. Sumari kyk na haar man en gee sy been ‘n druk. “Dit was moeilik aan die begin. Toe daar nog sprake was dat hy kon terugkeer (na rugby) het ek gesê ek sal nie weer een van sy games kán kyk nie. Ons is baie lief vir rugby maar ek wil nog baie oud word saam Jules,” sê sy.

Julian was aanvanklik, net na skool, by die Sharks rugby-akademie, maar het gesukkel om sy stempel af te druk. Alhoewel hy 0/18 en 0/20 Springbok was kon hy nie die Curriebekerspan van die Haaie haal nie en stutte soos Jannie du Plessis het in sy pad gestaan.

“Toe die Leeus my nader het ek nie eers rerig lank daaroor gedink nie. Ek het op skool vir die Leeus gespeel en ek het eintlik skelm vir hulle geskree ook daar onder (in Durban),” sê hy met ‘n glimlag. Hy sê dit is waarom hy nog in rugby en veral by die Leeus betrokke wil wees. “Die spankultuur is wat ek aan die begin (na my besering) die meeste gemis het,” sê hy. Voor elke wedstryd word die Leeus se erekode gelees. “Die hoof boodskap van die kode is “Ek is die Leeus”. Ek moet my beste gee om die span die beste te maak.” Destyds toe hy beseer is is die Leeus se ‘beseringskode’ ook gelees, al was hy nie in die kleedkamers na die wedstryd nie. “Dit sê basies jy beloof om jouself en jou spanmaats tyd te gee om te herstel. Om na raad te luister en nie op te gee nie”.

Voel hy hy’t opgegee? “Partykeer… maar dan kyk ek net na al die seëninge in ons lewens. Al ons familie en vriende en Chrismari. Ek dank die Here elke aand vir dit wat ek het,” sê hy.

Sumari gaan maak later ‘n koppie tee terwyl Julian Chrismari se doek omruil. Sy vertel hoe moeilik dit was om te sien hoe hy fisies sukkel. “Aan die begin kon hy nie eers sy linkerarm gebruik nie. Dit was erg om hom so te sien maar dit gaan al beter”. Sy sê egter hy het nooit in sak en as gaan sit nie. “Hy is so ‘n positiewe mens. Dit vat regtig nie baie om hom te motiveer nie,” sê sy. En nee, sy dink nie hy is jou tipiese rugbyspeler wat net gaan verdwyn nie. “Jy weet, hy het ses onderskeidings in matriek gehad. Hy is nie net slim nie. Hy werk hard en hy het regtig ‘n passie vir mense. Die groot goed in ons lewe kom nog,” sê sy met ‘n glimlag.

“Ek hoop nie Sums skinder van my nie,” sê hy toe hy in die kombuis in loop. “Nee bokkie,” antwoord sy. “Ek sê net die beste lê nog voor”. Hy gee haar ‘n druk en vir Chrismari ‘n soen. “Ja natuurlik. Ek het julle twee dan”.

 

 

Advertisements

Rus in vrede Ouma

Ek onthou ouma se groot blik vol knope. Daar was blinkes, kleines, grotes en knope wat dekades oud was daarin. Ek sou hulle in n hoop uitgooi en ouma sou vra watter een my gunsteling is. Elke keer was dit n ander een. Ek onthou hoe ouma altyd haar bra vas gemaak het om haar kop as sy bad en hoe sy na tea tree olie, babaroom en tuis geruik het. Ek onthou skaaptjoppies in die oond en warm melk met kaneel en heuning. Ek onthou ouma se blonde hare wat sedert ek kan onthou dieselfde lyk. Ek onthou ouma se lang maer hande met die blou spinnerakke en hoe ouma my “my lam” genoem het. Ek onthou die geranium in ouma se tuin en hoe ons dit gedroog het, in sakkies toegewerk het en tussen ouma se linne gebêre het. Ek onthou hoe ons appelkoospitte gekap het op daai klip in die tuin en ek my verwonder het aan hoe ouma die bitter goed kon eet. Ek onthou hoe gereeld ouma ouma se wit kombuisvloer gewas het – telkemale per dag. Ek onthou die groot klok in die gang en hoe my hart gebewe het wanneer hy slaan. Naderhand was hy gerustellend. Ek sou wakker word in die nag, hom hoor en weet eks veilig by ouma. Ek onthou hoe ek in verwondering kon kyk hoe ouma brei, die naalde wat klip-klak en musiek maak. Ek onthou ouma in haar sonhoed en tuinhandskoene, snoeisker in die hand en hoe ouma met die plante geraas het as hulle te stadig groei of te min blom. Ek onthou ouma se sagte manier, ouma se lang grasieuse nek en my hart pyn…. ouma moes my nog wys om koeksusters te maak maar laas keer was ouma se hande te seer. Met my verjaarsdag vanjaar het ouma my gebel en ons het lekker gesels. Die sein was swak en Leah het begin huil maar ekt nie terug gebel nie…. ek wou nog soveel goed by ouma leer. Ouma se melktert, koeksusters, hoe dit was om met soveel boeties en sussies groot te word.. Ek wou nog soveel vrae vra maar ek dink nie mens het ooit genoeg tyd nie. Ek wil elke vlietende herinnering nou neerpen, te bang dit verdwyn of vervaag. Ek wil huil maar ek wil ook dankie sê. Vir Yahweh dat ouma nie lank gely het nie en vir ouma. As kind het ek altyd veilig, geliefd en gelukkig by ouma gevoel. Ek hoop eendag kan ons weer saam kook en tuinmaak. Rus in vrede ouma Junita Magdalena Vermeulen (gebore Michau) 1928-2017ouma

The story of David and his quest to the Camino

 

62618_10201182182976422_933316821_n
Left: Bruno, my walking companion. David is seen at the back of the picture, shirtless.

I wrote this story in 2013 while on the camino. We met David somewhere after Logrono. He had a stall and he lives off donations. He sleeps outside and invites women pilgrims to stay with him. When we met David he had been living there for four years. Half of the story below I dreamed and told my walking companion from Brazil, Bruno. His version of how David ended up here was “he was a lawyer that couldn’t cut it in the real world”. And of course I had to dream up a wonderful tale. (Bruno still believes David was a lawyer)

David was not like other boys. Others boys wanted to be astronauts, he wanted to catch a star. Some wanted to be firefighters, he wanted to ignite fire in peoples hearts. He was a nomad. He’s been roaming the earth since he can remember. Travelling from town to town with his trusted companion, his dog Bruce.

David had the gift of hearing music in everything on earth. He heard it in the grass swaying and dancing in the wind. He heard it in the boiling sound of spaghetti in a pot. He heard it in the rhythm of his footsteps hitting different surfaces. He also heard it in every single human on earth. David has many other talents. He is the type of man that can knit, cook, play the harmonica, write a Haiku and he knows everything about the four core elements of the world.

David and Bruce always wondered through the streets of Logrono in search of music and their next bed. They had extended conversations with beggars about the meaning of life, for David believed that if you have nothing you have everything to gain.

David met Fillipa one cold, wet morning. He learned to cook from her. A 60-something woman with flame red hair who smoked so many cigarettes that her apartment was tinted a light yellow colour. Fillipa gave David, aside from a warm bed, all her accumulated knowledge on cooking. After dinner each night Italian opera music would boom from apartment 16. The neighbors told tales of rattling windows, voices joining in the singing and occasionally a dog’s howl. Fillipa’s fiery passion taught David more then just cooking and Opera. He also became intoxicated by her music. But like with so many other woman before, he only stayed a while. Her music was overwhelming and the music of the world as a whole was drowned out.

Elli was a woman who made wind charms and when David blew through her town she spun him like a hurricane. For 2 weeks David and Bruce were caught up in her whirl wind world. She had bells in her braided hair and with every step she took the sound reminded him of fairies at play. Her kisses were like an autumn wind, it took his breath away. She taught David the art of flute playing and how when you close your eyes and blow a kiss to someone dear to you, they might just feel it. But like Fillipa, Elli’s music was deafening.

David walked through many narrow streets and over many hills as far as the eye could see. His knowledge grew on his voyage. However he has never read a book for he believes learning is in living.

One day, in the shade of a chestnut tree, David saw Babette for the first time. Like some exotic sea creature she was swimming and splashing in a nearly lake. The fish seemed to gather at her feet as if somehow making sense of her cheerful humming. They quickly swam away as Bruce ran closer to examine. Babette had a calming effect on David. David and Babette only spent a few days together but she taught him the virtue of patience, she taught him to make necklaces from shells and that water has healing powers. But her music was starting to drown out the worlds music and she didn’t want to wonder the earth like David and Bruce.

He saw Merike from miles off. She was working in her apple orchard with her hair tied in the base of her neck and the sun reflecting in her dark brown eyes. Her skin was tanned bronze, yet her lips were as red as the apples she was plucking. She could grow anything. She loved everything. Merike smelled of wet earth and her fingernails always had bright red soil caught underneath them. It was from her he learned how to cultivate land, when to prune roses and how to make the best marmelade. But yet again the road was calling and David and Bruce had to obey.

David wanted to hear the music of the world as a whole and not get caught up in only one of its elements. He thus started to walk the Al camino de Santiago with his faithful companion by his side. They ate from the land, listened and laughed and David was sure the music of the world was loudest here.

Between nowhere and Astorga Bruce fell terribly ill. David called on the god of Fire, Earth, Wind and Water but Bruce’s time was up. He buried Bruce in the shade of two adjoining trees. There where his hammock hangs today.

For the past four years the world has been playing a masterpiece for only David’s ears. He stills pilgrims hunger and provides water and shade for them. He gives a little but in the process he gains much more. According to him, all is in harmony. He meets many pilgrims, all with their own music, all composed by their element. He learns and he listens.

The End
Buen Camino

 

Dit blom. Ruik dit.

Die wêreld blom en ek kan nie help om te glimlag nie. Ek pluk ‘n steggie jasmyn en druk dit agter my oor in. “Dis heerlike lente, die winter’s verby…” neurie ek

Die Yesterday-today-and-tomorrow se reuk kruip vanoggend by ons agterdeur in en kom drink saam my tee. Ek asem die lentereuk diep in my longe in. Die tee, die reuk van die papaja wat ek vir die voëls neergesit het en die blomme kondig almal vanoggend die lente aan.

Die jasmyn naby ons voordeur blom ook en ek besef opnuut nog ‘n jaar het gedraai en ek verjaar amper. Vanjaar word ek 29. Nog ‘n jaar van vriendskappe bou, my rug draai op mense wat net vat en niks gee nie, ‘n jaar waar my liefde vir myself, my man en ons dogtertjie gegroei het en nou blom. ‘n Loopbaan-verandering en in een van die dae ‘n terugkeer na joernalistiek.

My tuin blom en so ook my dankbaarheid. Ek gaan die lente meer stap, sing, plant, maak en bak. Ek gaan aanhou om blomme agter my oor in te druk en kaalvoet rond te loop. Ek gaan meer sonskerm dra en meer swem. Ek gaan tee (of sjampanje?) drink saam mense wat vir my omgee. Ek gaan stories vertel en ek gaan na stories luister.

Ek gaan diegene wat die blomme in my lewe laat verwelk in die pad steek. Ek gaan aanhou droom, aanhou glo en aanhou bid. En ek gaan aanhou om stiggies ook agter Leah se oor in te steek.

Dis lente. Dit blom. Ruik dit.

Gedeelte uit my Camino de Santiago dagboek: Deel 1

 

Daar is nou ‘n groot bohaai oor die Camino. Ek is bly omdat dit hopelik baie mense inspireer om die pad na Santiago de Compostela te stap maar dit maak my ook hartseer. Ek hoop nie dit word gekommersialiseerd nie. Die rede waarom dit so ‘n groot impak op mens laat is omdat dit nie ‘main stream’ is nie. Hier is gedeeltes uit my dagboek nog aan die begin van die Camino, voor ek soveel vriendskappe gevorm het. Ek het baie geskryf so ek haal net stukke aan. Ek het elke dag ‘n gebed neer geskryf, die dag se gebeure en my budget al 34 dae van stap.

30 Maart : “Ek het 8h begin loop. Ons is deur verskeie inwoners aangeraai om ‘n alternatiewe roete te volg want die afdraai na Valcaros is toe onder die sneeu. Blykbaar is die sneeu op plekke tot 2m diep. ‘n Koreaan se voet moes twee dae terug geamputeer word omdat hy frostbite gekry het…Dit het gereen en die wind het mergeloos gewaai oor die Perenees…. Dit was baie erg. Met opdraandes word die blasé op my hakke oopgeskuur en met die afdraandes voel dit of hammers my voete moker. Ek voel geensins sielsrus nie in teen deel ek het vir ‘n lang gedeelte gehuil van pyn vandag. Ek bid vir Geduld, minder pyn en bewaring want dis dag drie en ek weet nie hoe ek dit gaan maak nie”

31 Maart: “Die dorpies is klein en nie een van hulle het ‘n apteek nie. Ek het al aan opgee gedink want dis erg. Ek het twee enorme blasé op my hakke en my voete pyn maar ek gee nooit op nie. Ek kan nie nou begin nie. More wil ek 20km stap tot in Pompelona. Ek sal maar baie musiek luister om te vergeet van die eina”.

1 April: “More bly ek net hier. Ek vat ‘n rus dag. Vandag het ‘n Spanjaard gesien hoe ek sukkel en sy looppale vir my gegee om meet e stap. Dit het baie gehelp. Ek wou dit net-nou vir hom terug gee maar hy het beduie ek kan dit hou.”

3 April: “ek het vandag ‘n Nederlandse oom ontmoet wat saam sy vrou se beste maatjie stap. Sy vrou is twee jaar gelede oorlede en hulle twee doen dit vir haar…. My een heup is seer. Ek sal my sak oor moet pa ken verstel.”

4 April: “Die loud Amerikaner het vanaand vir ons almal slaai, pasta en sop gemaak en ek het gans te veel rooi wyn gedrink. Mens kan nie help nie – rooi wyn is goedkoop! Ek het al 130km gestap. Whoohoo”

5 April: “Die wind het weer erg gewaai vandag en daar het ook sneeuvlokkies geval. Ek het probeer om een op my tong te vang maar het ongelukkig misluk. Vanaand maak ek en ‘n ander Suid-Afrikaner kos vir 13 mense in die Albergue. Niemand is lus vir restaurant kos nie. Ons maak ‘n regte boere feesmaal. Almal chip in sodat ons dit kan bekostig. Die Aussie vrou oorkant my sit en verf ‘n landskap van Los Arcos, die dorpie waar ons nou is”

6 April: “Ek het ‘n roosmaryn-blommekrans gemaak. My gunsteling geur was ‘n geskenk hier tussen al die vrot-voet- en sweet-reuke. ‘n Opmerking: die geskeide mense wat ek hier ontmoet het sover is almal sinies. Gisteraand toe ek vir ‘n vrou se een van die redes hoekom ek die Camino stap is om te verseker ek is reg vir trou en om ‘n goeie vrou vir Philip te wees sê sy: “What about him? He must also be the perfect husband then”. Ek dink dit is wat fout is met mense se uitkyk oor verhoudings. Alles is “Ja maar hy moet eers dit of dat doen/sê voor ek gaan”. Mense besef nie jy moet jou hart oopmaak en jou maat sal, as hy jou ook lief het, dieselfde doen. Jy kan nie selfsugtig wees nie”

7 April: “Hoera! Ek het vandag my eerste 30km gestap tot in Ventosa. Tans sit ek by ‘n groot hout tafel en skryf. Daar speel klassieke musiek en die kaggel kletter. Nog ‘n stempel in my Camino paspoort. Hy word nou mooi kleurvol!”

8 April: “Ek gaan vanaand nagmaal toe maar soek nog iemand wat vir my kan vertaal. Ek het sopas 2 glase rooi wyn vir 1,4 Euro gedrink. Bargain. Die albergue waarin ek vanaand slaap is ‘n donasie een, so jy kies hoeveel jy wil gee. Die Aussie tannie wat verf het my vandag iets geleer. Om nie vas gevang te word in net ‘stap’ nie maar om om my te kyk en die mooi goed te sien om my. Ek kom sulke goed in mense agter maar ek gaan meer tyd vat om die mooi in die omgewing om my te sien. Opmerking: Die locals verstaan gladnie Engels maar speel almal Engelse musiek – dit maak geensins sin nie!!!”

9 April: “Vandag het alle grashalms gedans en die wind het sonder ophou gewaai en daar was tye wat dit gevoel het of dit my gaan omwaai. Gelukkig het dit nie gereën nie. Ek is tans in Belado. Ek het saam 3 Aussie ouens gestap vandag. James, Jack en Henri. Hulle is argitekte. Dit was lekker om bietjie jong geselskap te hê en nie oor ernstige dinge te praat nie. Opmerking: gisteraand se albergue was goor. Dit was ‘n donation een maar die opsigter is ‘n creepy Italianer wat sonder skaamte na my ass gestaar het en toe ‘nice’ gesê het. Eerste onvanpaste iets wat ‘n man sover gedoen of gesê het – toe kom die etter!

 

 

 

“Slaap my kindjie slaap sag, onder rose vannag…”

IMG-20170815-WA0007Jou oë staan stokstyf van die moegheid. Ons speel jou gunsteling dansliedjies maar jy tol een keer en spring net twee keer op en af. Nou besef ek en pappa hoe gedaan jy regtig is.

Vir weke wou jy net “pappa” hê en ek’t die saligheid geniet maar ek moet bieg dis so lekker as jy weer jou neusie in die holte tussen my nek en borskas druk. Dis so lekker dat jy weer by my wil lê. Na ek en jy ‘n bad gevat het en jy krokodiltrane gehuil het kruip jy in die holte van my arm in. Ek vee die trane af en gee jou wangetjies soene.  Ons kan nie soos ander aande jou in jou bed sit nie, jy huil jouself uitasem want na ‘n dag saam ouma rond karjakker wil jy net vir my hê.

Ek ruik jou goue haartjies en trek jou nader aan my. Toe ek ophou sing steek jy jou wysvinger in my mond en jy hummm… dis my que. Ek moet nog sing. “Wat maak hy mammie…hy roep die kriekies hy roep die swarts, stilte wat sing soos die biesies my hart” en jy draai na my en met jou groot bokkie-oë en gee my ‘n soen. “En die sterre wat tok-tok-tok liefling soos die klein toktokkies in hul fyn ver kring”.

Jy voel-voel tot jy my hand kry en trek hom tot voor jou bors, nes ek altyd doen as ek jou handjie gesoen het. Wanneer het jy dit geleer?

“Slaap my kindjie slap sag onder rose vannag,” jou klein handjie speel met my hare en jy sit jou arm om my nek. “Eers die armpies om my nek end an saggies toe gedek”.

Ek weet nie hoe om dié liefde te beskryf nie. Ek weet nie hoe ek ooit sonder dit klaar gekom het nie. Ek weet net, ek en jou pappa sal nooit weer dieselfde wees nie. Ons harte bars uit hul nate.

Kom kyk net

Elke weeksdag kom die manne van De Rust bymekaar by Ray’s coffee shop, ‘n katspoeg voor jy uit die dorp uit ry. Hulle drink hulle koffie en gesels. My ma glimlag en sê hulle skinder meer as die vrouens op die dorp. Oom Berry boer met skape en beeste maar my pa sê hy moet eintlik nie boer nie, hy’t nie vee nie, hy’t troeteldiere want elke skaap en bees het ‘n naam. Oom Berry is sommer vir die hele dag omgekrap as die slagpale sy diere kom haal. Hy sê hy kan dit nie oor sy hart kry om hulle self te loop vat nie.

Woensdagaand kon ons kies tussen wildspastei of prawnkerrie op in die straat by Nicky en Soon. Hulle het ‘n restaurant wat net ontbyt en middagetes bedien – behalwe op Woensdae. Daar is ‘n groot haan voor die plek en as hulle oop is, word ‘n lap oor die haan se stert gegooi. Nicky en Soon is eksentriek. Met die intrapslag is Leah gefassineerd want Nicky dra ‘n “top hat” en sy grys hare hang oor sy skouers. Ons smul en ek en Monique spits ons ore om al die mooi gesegtes en woorde van die mense hier te onthou. “My kombi is in, hy kry nuwe sitte,” vertel die oud-onderwyseres by die tafel langs ons vir my ma’le. Sy karwei elke oggend amper 40 kleutertjies na haar kleuterskooltjie toe. Sy doen dit verniet. Sy het die skooltjie begin omdat soveel van die kinders hier nie skool gereed is nie.

Gister het ons ‘n 9.5km-staptog aangedurf en het ons deur ‘n vallei na De Rust gekoekeloer. Ons het op Oom Pieter se plaas gaan stap. Dit het by tye gevoel of ons deur ‘n alwynoerwoud stap. Hy is die vierde generasie Schoeman wat hier boer en die hoofstraat is na een van sy voorsate benoem. Vorige keer het ek en Philip ook twee volstruis-femurbene by hom gekry. Dit gaan ons voordeurhandvatsels eersdaags wees.

My ma en pa se gastehuis, House Martin, voel soos ‘n ou herehuis maar nes die Venters kan, voel jy tuis. Dit is in 1885 gebou en nie te lank gelede het ‘n tannie in haar 90’s hier kom kuier. Sy het vertel hoedat sy in die huis, saam haar 11 sibbe gebly het. Haar pa was die skoolhoof op die dorp. Nou is dit die mooiste gastehuis. Dis die klein goed wat ek sien gaste na gek is – die croissants, vars vrugte, scones, koffie, tee en liefde wat my ma vir ontbyt bedien. Die stories wat my pa vertel, die eerlikheidskroeg waar geen drank ooit verdwyn sonder dat gaste betaal nie, die moerkoffie en tuisgebakte koekies in die kamers. Geen wonder hulle het ‘n 9.3 rating op booking.com nie. Mense wat hier oorbly wil bloot nie ry nie.

Hier is mense wat net hierdie gebied ken want hulle en hul ouers het hier groot geword. Daar is mense wat inkommers is en wat in ‘n ‘vorige lewe ‘n A8 gery het’ en besluit het om hier te kom asemskep en nog nooit weer terug getrek het nie. Hier is mense wat die wêreld plat gereis het, vir 25 jaar in die VSA gewoon het maar almal kry ‘n plekkie hier met die Swartberge wat hulle toegooi in sy skadu. Selfs die vierde generasie boere verwelkom jou met ope arms want “jy wiet, mens se kop moet nie klein word nie. Mens het inkommers nodig”. So het een boer my vertel toe ons tussen die hange van Meiringspoort gaan braai het.

Ek het nog nie eens oor Meiringspoort, die Klaarstroomhotel, Kangogrotte ens geskryf nie. ‘n Dag in die kontrei is gans te min. Kom kyk. Kom stap. Kom gesels. Jy sal nie net welkom wees nie, jy sal nooit wil ry nie. Kom net julle

 

.

 

 

Die Klein Karoo – ek is verlief

IMG_20170809_112357 (1)Ek haal dieper asem. In….uit….in my kop maal nog van statsbekommernisse, moets, moenies, “wat as”.

In…uit… die fynbos lê ryg om ons. Ek wil gaan stap. Stap tot waar die sneeu so dik gelê het nou die maand. Waar die bergwater poel onder die Swartberge se skadu. Waar die aarde geskroei is deur brande maar waar die groenerigheid nou weer deur die grond breek. Ek wil stap en die verlore woorde van my mense inasem. “Nooi, ek’t jou koffer af gepak”. Ek luister na die stilte en die gewoel in my raak rustiger. “Ek kry gou die band in die waenhuis”. My taal klink lewendig en soos huis op die mense van die Klein Karoo se tong. ‘n Boer vertel my van skape skeer, eers moet ek mooi luister want ek sukkel om elke woord te hoor.

dav

Nou, nou is ek verlief. Ek is verlief op die Klein Karro. Ek moet bieg, ek moet bieg. Ek wil ‘n fynbosblommekrans maak en later met ‘n fles koffie op die naat van my rug die heelal bewonder.

In…uit…. ek wil na die sonbesies luister. In….uit…. ek wil ‘n sinkdakhuisie hier beset. In…uit…. Ek is verlief, ek’s verlief ek moet bieg, ek moet bieg.

 

Is ek net ma?

18670893_10213366787583922_1056948573450528868_nEk is nou al ‘n jaar en ‘n half ‘n ma. (Ek tel nie die tyd wat ek swanger was nie want dit het toe nog te onwerklik gevoel.) Ek onthou die eerste keer toe hulle die glibberige lyfie op my borskas neergelê het. Dit het toe steeds onwerklik gevoel. Ek was dankbaar Leah was hier na 41 weke van chill in my pens. Tog het ek nie, soos baie ander ma’s dit beskryf, ‘n onmiddelike oorweldigende liefde vir die klein lyfie gevoel nie. Sy was vir my mooi en ek wou haar beskerm.  Vir die eerste paar weke was dit vir my genoeg.

As ‘n ma voel mens jy moet sê “ek was verlief toe ek haar vir die eerste keer sien” of “ek het nog nooit sulke liefde geken nie”. Vir sommige ma’s is dit so. Ek het gewonder of daar iets fout is omdat ek nie gevoel het “ek het haar meer lief as enige een op aarde nie”. Ek is dan al vir meer as 10 jaar lief vir een man…ek het haar nie meer lief as vir hom nie, het ek gedink. Met tyd het my liefde vir Leah gegroei. Dit is vandag ‘n Witstinkhoutboom wat bo die woud blaarkombers toring en dit voel of hy al vir jare wortelgeskiet het in ons lewe.

Ek glo vas Leah moet nie die belangrikste persoon in my en Philip se lewens wees nie. Ons is eerste getroudes en dan ouers. Dit is soms moeilik tussen etes, doeke ruil en taai handjies afvee maar ek dink soveel van vandag se huweliksprobleme is omdat vrouens (baie keer) die kinders bo hulle man kies.

Kom ek wys jou egter die kaarte in my hand. Ek is (amper) 28 jaar oud en ek voel soos net ‘n ma. Ek het al in vertrekke in geloop en Leah word gesoen en gegroet en mense kyk verby my of ek word voorgestel as “Leah se ma”. (I kid you bleeeeeep not)

Soms wil ek nie dink aan wat Leah vanaand vir aandete gaan eet of hoe gebalanseerd dit is nie. Soms wil ek nie aan slaaptyd, drinktyd en speeltyd dink  nie. Ek wil die hele dag by ‘n koffiewinkel sit met ‘n goeie boek in die hand. Ek wil saam my man te veel wyn drink by ‘n klein restaurant wat ons ontdek het. Ek wil ‘n bad vat sonder dat klein handjies na my ledemate onder die water gryp of (erger nog) my skoene langs die bad in die water gooi. Ek wil onbepland lewe, iets wat byna onmoontlik is met ‘n baba. Dit word darem nou beter soos sy groter word. Ons sleep haar orals saam.

Ek kyk nou die dag vir myself in die spieël. Dit is ‘n uitrusting wat ek voor ek ‘n ma geword het ook gedra het. Ek het toe sexy gelyk, onthou ek. Nou lyk ek soos ‘n ma. Hoe het dit gebeur? Daar’s dae wat dit heerlik is om as Ma bekend te staan want ek geniet regtig om ‘n ma te wees. Ek het nog nooit tussen al die slapelose nagte, tepels wat bloei of poefdoeke gedink “die is nie vir my nie of ek kan dit nie doen nie”. Dit is ‘n avontuur en alhoewel dit uit baie raaiwerk bestaan, raai ons gelukkig nog meeste van die tyd reg. Ek wil ‘n groot gesin hê. Tog wil ek soms net as vrou, geliefde en vriendin bekend staan.

Ek is trots op my rol as ma. Ek dink ek doen dit goed (ek sê mos ons raai baie reg) maar daar is ‘n gedeelte van myself wat ek verloor het. Soms wil ek die selfsugtige Carla wees wat ‘n duur rok koop want hy’s mooi of haar hele salaris op ‘n reis oorsee spandeer. Ek mis haar. Ek mis haar spontaniteit.

Die naweek hou Philip my vas en fluister in my oor “Jis jy’s hot”. Ek lag uit my maag en dank my sterre vir ‘n man wat steeds die spontane Carla sien. Al voel dit of “MA” op my lapel vasgespelt is, hoef ek nie te kies nie. Ek is meer is net ‘ma’. In die woorde van Antjie Krog. “ek is. ek is…die Here hoor my….’n vry fokken vrou”.

Imke Geldenhuys: ‘n storie wat ek sal onthou

Presies ‘n jaar gelede het ek voor ‘n jong ma gesit. Sy snikkend met ‘n tissue in haar hand vasgeklem. En ek wat met ‘n kamera oor my skouer na die gesin se storie luister.

Februarie 2016 is ‘n groot-oog krulkop dogtertjie van Tzaneen, Imke Geldenhuys met Neuroblastoom-kanker gediagnoseer. Die mooie meisie het vyf maande later al 10 rondtes chemo ontvang. Toe ek 19 Julie 2016 met Iliona, haar ma praat was die kanker reeds ver gevorder maar hulle het hoop gehad. In SA het sy net ‘n 20% kans om oorlewing gehad en die gesin het geskarrel om 10 miljoen rand in te samel vir behandeling oorsee.

Van heinde en ver het die storie mense se harte geraak en Suid-Afrikaners het miljoene by gedra vir Imke om VSA toe te gaan vir behandeling. In Desember 2016 het ek ‘n oproep gekry om dankie te se. Sy is op pad. Die storie wat ek vir eNuus oor Imke gedoen het, het haar op almal se radar geplaas en sy was op pad Amerika toe na talle mense hulle beursies oop gemaak het. Ek het saam met haar tannie aan die anderkant van die telefoonlyn gehuil en gehoop dat ek ‘n storie met ‘n goeie einde gaan kan vertel.

Twee dae gelede is Imke in haar pappa se arms, weer op SA-bodem, oorlede. Kanker het haar vier jarige lyfie uit geteer en sy het net 11kg geweeg toe sy dood is. My 18 maande dogtertjie weeg nou 12kg. Sy was in konstante pyn en het morfien gekry. Sy wou nie eet nie.

Tydens my sewe jaar van stories vertel het ek gereeld die tipe stories vertel maar die Geldenhuyse se storie het regtig ‘n impak op my gemaak. Dalk is dit die liefde, geloof en positiwiteit wat hulle uitstraal of omdat ek vir die eerste keer werklik myself in ‘n ma se skoene, die ma se skoene, kon sit – ek was nou mos self een. Ek dink nie ek het al ooit so hard vir iemand gebid wat ek nog nooit ontmoet het soos vir Imke nie.

Waarom sulke goed met die onskuldigstes in ons samelewing gebeur sal ek nooit verstaan tydens my reis op aarde nie. Ek bid en hoop dat Darius, Ilona en hulle tweeling dogtertjies vorentoe sal kyk. Dat die Vader hulle harte sal vashou en dat hulle die mooi van die klein tinktinkie, Imke sal onthou.

Rus sag en mag jou hemel vol al jou gunstelinge wees xxx

Camino vrugte – kort storie

camino stap

In die albergue in Pompelona is die eerste keer wat hy haar gesien het. Sy het op haar rug gelê en saggies gesnork. Die res van die albergue was stil, almal het gaan aandete soek. Hy het homself tuis gemaak op die onderste bed, ’n meter langs hare en in sy dagboek probeer skryf. “Vandag was ‘n lang dag…my voete…” maar verder kon hy nie dink nie. Hy het na haar rugsak gestaar. Dit lyk asof meeste van haar besittings nie binne-in die sak is nie. Die rugsak het strikke, badges, ‘n paar stukke lap en self oranje kouse wat aan dit vas gemaak is. Haar loopstok het allerlei simbole op graveer.

Hy kyk na sy eie rugsak, die lyk nog nuut na net 4dae se stap. Die Camino de Santaigo is seker nie haar eerste pelgrimstog nie. Hy het besluit om eerder looppale te vat as ’n hout loopstok. Sy vrou het hom gewaarsku so ’n stok kan jou hande gaar maak as jy aanhoudend met hom stap.“Dink aan die splinters, Johan”. Hy het egter sy eie kop gevolg – wou ‘n ware pelgrim wees. Soos diegene wat in die 8ste eeu die staptog van 920km vanaf die rand van Frankryk tot op die uithoeke van Spanje aangedurf het.

Die vrou lyk meer na ’n pelgrim as ek, dink hy.

Haar dik blonde hare het stukkies vlegsel in met klein klokkies wat tingel elke keer as sy diep asemhaal. Sy oë begin afdwaal na waar ’n tand, ‘n sleutel en ’n vredesteken om haar nek hang. “Oor wat is sy passievol? Is dit robbe, dolfyne, kinders, die armes of vroueregte. Of al die bogenoemdes en meer? Iemand soos die het baie passies”, besluit hy. Die enigste plain ding aan haar is die swart t-hemp wat sy dra. Hy sien sy het vandag met sandale geloop. Sandale en sokkies. ‘n Regte pelgrim. Hy wonder waarom sy die Camino stap… Sy moet ‘n antropoloog wees, dink hy. “Sy studeer kulture en eeue ou tradisies,” skryf hy in sy reisdagboek. In sy geestesoog sien hy haar staan tussen die piramides in Egipte, meegevoer deur die geheime wat in hul maage skuil. Hy sien haar om ‘n vuur sit waar swart vroue se naak borste swaar hang en hulle armbande die vlamme reflekteer. Hy sou raai dat sy ook van hul kralewerk om haar nek hang en dalk self haar klere sal laat waai om werklik een te word met die mense.

Hy kyk na haar gesig, donker wenkbroue wat wild groei. Dit herinner hom aan die knapsekêrels wat as kind aan elke moontlike kledingstuk vasgeklou het wanneer hy saans by die plaashuis se kombuistafel gaan sit het na ‘n lang dag van duiwe skiet. Sy is nie meer jonk nie. Hy skat haar so 40. Met ’n skok besef hy dis dieselfde ouderdom as sy vrou.

Hy sien haar swart t-hemp klou om haar borste en kyk vinnig weg. Hy probeer sien of sy ’n troupand aan het maar haar hand is onder haar kop ingevou. “Hoekom wil jy dit weet”, berispe hy homself sag. Tog kan hy nie ophou kyk na haar nie. Alles aan haar is misterieus, hy wil langs haar lê en ruik hoe sy ruik, met die klokkies in haar hare speel, gedigte skryf (“God wat gat aan met my”), filosofeer oor die lewe en hoor waar sy al orals gewandel het. Sy is sekerlik ‘n kampvegter vir iets, sy mediteer daagliks, sy het al met talle mans seks gehad, sy kan ’n instrument speel en in haar lag ruik jy koffie en sigarette. Hy is seker daarvan. In sy kop hoor hy gesprekke wat hul nog gaan hê. Hy onderdruk die gevoel om haar nou dadelik wakker te maak want in sy gedagtes ken hy haar al.

Hy het opgestaan en gaan aandete soek by een van die talle klein tapas restourante. Toe hy terugkom het sy nie meer gelê en slaap nie. Hy het aan die slaap geraak en eers weer wakker geword die volgende oggend toe die ander pelgrims soos miere begin rondskarrel het. Hy het probeer loer waar sy is maar haar matras was leeg en haar rugsak weg. Later daai dag het hy met ’n tandarts van Holland gesels en gevra of hy die vrou met die klokkies in haar hare ken. “Ja, ja ek ken haar natuurlik, ons is vandag 18 jaar getroud. Sy’s my mediese-assistent. Sy loop daar voor”

Dit was lank stil voor hy dapper genoeg was om te vra “van wat hou sy?”. “Ag, jy weet. Die gewone goed; brei, tuinmaak en kinders grootmaak. Jou vrou?.”

“Jy weet; tuinmaak, kinders grootmaak en van my…”