Kategorie: Uncategorized

Ma-wees verander mens

Dis nie “o shit” as ek iets vergeet het nie maar “o gats”. Selfs woorde soos “nail polish” is verban dis nou “naellak” want behoede my, ek wil nie ‘n kind he wat van ‘juice’ of ‘swing’ in plaas van ‘sap’ of ‘swaai’ praat nie. 

Die Dros-verkragting: wie blameer jy?

alone-anxious-black-and-white-326580.jpgDie beweerde verkragting van die klein sewejarige meisietjie in Dros in Pretoria het skokgolwe deur ons land gestuur.

Elke ouer is meer paranois en meeste Suid-Afrikaners soek bloed – ek self heroorweeg my standpunt oor die doodstraf. Alhoewel baie van die feite nog uitstaande is is daar alklaar baie geskryf hieroor.

Ek is geskok om te sien hoeveel mense die oppasser, die restaurant, die ooggetuies en die ma blameer. Ek is veral teleurgesteld in die ouer generasie wat reeds kinders groot gemaak het en nou oumas of oupas is. Hulle is die wat die kind se ma die meeste blameer.

“Mens haal nooit jou oë van jou kind af nie  – dis die ma se skuld”. “Ek’s jammer maar jou kind is jou verantwoordelikheid”. “Ek sou nooit laat my kind alleen badkamer toe gaan nie” of die een wat my die meeste frustreer het is die insinuasie dat kinders net tjoepstil by die tafel moet sit by ‘n gesinsrestuarant “want dis hoe hulle maniere leer”.

Het julle dan so maklik vergeet? Of is dit omdat julle steeds vasklou aan die idee dat kinders gesien en nie gehoor mag word nie.

Die meisie is nie meer ‘n kleuter nie. Sy’s sewe jaar oud. Sy’s in gr.1 of miskien reeds in gr.2. Ek weet ek het as laerskoolkind alleen toilet toe gegaan en ek sou nie voor die voorval twee keer gedink het as my dogter op daai ouderdom self toilet toe gaan nie. Dis ‘n familie restaurant. Dis nie ‘n klub of wilde kroeg nie. Daar is ‘n speelplek vir kinders met ‘n oppasser en ouers kan genadiglik ‘n glas wyn drink en asem skep terwyl jy ‘n ogie hou oor jou kroos.

My dogtertjie word drie in Januarie. Sy is vol lewe en energie en word opgewonde oor alles en sy’s blitsig vinnig. Ek was al in ‘n restuarant en het afgekyk na my spyskaart om kos te bestel en toe ek weer sien is sy weg. Ons het reg langs die speelgoed-area gesit en sy was reeds besig om by ‘n glyplank af te gaan. Dit gebeur so gou en myne is maar nog ‘n kleuter maar iets kon in daai twee minute gebeur het, ek erken.

Daar is baie slegte ouers in ons land. Ons weet dit want ons lees gereeld van gevalle soos die Huis van Gruwels. Ek doen ‘n beroep op  Suid-Afrikaners, en veral die ouer geslag, moenie alle ouers kruisig nie. Moenie so vinnig vergeet hoe gedaan jy is of hoe besig die klein lyfies kan wees nie. Moenie vergeet hoe inkleur vir jou een kind ure besig sou hou maar jou ander een verkies het om boom te klim nie. Moenie vergeet dat daar pedofiele in jou tyd ook was nie. Gert van Rooyen is juis nou weer op almal se lippe en dit was in JOU tyd. Moenie vergeet dat die ouers ook ‘n slagoffer is en dat mens nooit die slagoffer kan blameer nie.

Ek het die afgelope week gesien baie mense sê “ek blameer die ma”. Blameer jy ook die vrou wie ‘n mini aangehad het en verkrag is? Die vrou wat te veel gedrink het maar steeds ‘nee’ gesê het? Die vrou wat skemeraand gaan draf het? As jou antwoord ja is, is jy deel van ‘n veel groter probleem. Dit is waarom so min slagoffers van seksuele misdaad klagtes lê want hulle is bang hulle word blameer.

Die enigste een wat skuld dra in die tragiese geval is die misdadiger. Nie eens sy familie of geliefdes kan geblameer word nie. Daar staan nie ‘monster’ op hulle voorkoppe geskrywe nie. Baie maal is hulle juis die sjarmante mense wat veral goed is met kinders.

Dink jouself in hoe daai ma van daai klein dogtertjie haarself verwyt. Ek beloof jou sy het onnoembare maal die afgelope week gedink “as ek maar net”.

‘n Onlangse studie in Suid-Afrika het bevind tot 35% van kinders in die land word seksueel mishandel voor hulle 17 jaar oud word.  Amper net soveel seuns is slagoffers as meisies. Een in drie kinders in die land word voor hulle 17de verjaarsdag aan een of ander seksuele mishandeling blootgestel. Die syfers is skrikwekkend. Tog is die meeste van die oortreders iemand wat die kind ken. Dis ‘n nefie, ‘n oom, ‘n onderwyseres, ‘n afrigter of ‘n maatjie se ouer. Die kans dat ‘n wild vreemdeling jou kind aanval, soos in die geval, is baie klein.

Die naweek het ‘n klomp van ons vriende gekuier en al die jong ouers het erken na die Dros-geval is hulle paranois. “Ek het vandag vir iemand gesê hulle mag nie na my kind kyk toe ek die stootwaentjie verby hulle stoot nie. Ek voel eintlik skuldig maar ek is so bang,” sê een van my vriendinne. Dis waar mens is baie skrikkerig maar so wil ek ook nie leef nie. Want hoe maak jy jou kind groot sonder om vir alles bang te wees maar steeds versigtig?

My hart is seer vir die kinders van ons land. Soms voel dit maak nie saak wat jy as ouer doen nie, jy nie jou kind kan beskerm nie. Ek weet ek kan nie 24 uur ‘n dag my dogter dop hou nie. Ek  probeer haar leer haar lyfie is net haar eie en ek bid en ek bid en ek bid…

 

 

 

Kos! (my maag grom)

Ek sit vanoggend by die kombuistafel en eet roosterbrood met dik botter en tuisgemaakte lemoenmarmelade. Dis heerlik. En in ’n oogwink loop ek deur Parys se strate en ruik al die varsgebak by al die klein Pâtisseries in die stad van liefde.

 
Croissants wat so baie botter bevat dat dit geel is en kleurvolle macarons wat in jou mond smelt en die geur van amandel in jou sintuie nalaat. Ek onthou vars brood met verskillende kase vir ontbyt by die klein gastehuis waar ek en ma in Parys gebly het.
 
Die mossels in soutwater met uie en seldery in Brussels wat ek en Philip geëet het. 10 Euro vir ’n pot vol mossels en ’n liter bier – bargain.
 
Die sterk espresso elke oggend op die Camino de Santiogo deur Spanje en die tortilla de patatas (‘n omelette van aartappel, kaas en eier) wat die honger verdryf het na kilometers se stap.
 
Die kerrie by die Karama souk in Dubai waar jy ‘mild’ bestel maar dit steeds jou oë laat traan. Lam is nie skaap nie hoor, dis bok maar dis heerlik. Die arbeiders het nog gegiggel vir my wat vir nog water vra. Dit was een van die goedkoopste maaltye van my lewe maar dit was heerlik.
 
Ek onthou die swarma’s en die krap by daai restaurant teen die rivier naby die Spice Souk in Dubai waar ek vir die eerste keer met ’n hammertjie die krap se dop sukkend geslaan het om by die pienk vlees te kom.
 
Ek onthou die vars vis in Dubai. Hulle oë en vel nog glinsterend so vars en die prawns wat pa twee twee in die pan moes braai want hulle was bloot te groot.
 
Ek onthou die brode, sjokelade smeer, salami, bottels en bottels rooi wyn en pizza in Italië. Ons sou daagliks ‘n lang dun brood met verskillende kase, Nutelle smeer en koue vleis koop en dit in die kar eet op pad na ons volgende stad. En Philip wat baie opgewonde was dat ons bier en wyn enige tyd van die dag kan koop by byna alle winkels. Oe en die gelato! Hoe kan ek vergeet. 
 
Ek onthou die kos in Thailand, vol onbekende geure soos coconut melk en die chili wat soms my asem weg geslaan het.
Ek dink ek het vandag heimweë oor die plekke wat ek al besoek het…of ek’s net regtig swanger en regtig honger.
 
Nou om te besluit wat ons vanaand gaan eet.

Ek was nog nooit die bang tipe nie

crime

Die middestad, townships, middernag… die dinge het my nog nooit bang gemaak nie. Ek moes al vir petrolbomme koes en is al met verkragting gedreig maar nog nooit was daar so ‘n blywende vrees in die diepste van my maag soos nou nie.

Iemand, ‘n bliksem ek dink daar was dalk drie, het ingebreek terwyl ons slaap. Hulle het gevlug met ons televisie, wat my man sorgvuldig gaan uitkies het na ons etlike maande gespaar het, en n pakkie sigarette en my sanity.

My kop maal van al die ‘wat as’ vrae. ‘Wat as hulle die veiligheidshek afgebreek het, hulle kan dit in minute doen.’ ‘Wat as hul gewapen was en nie gevlug het toe my man af stap met die trappe nie’. ‘Wat as hulle by ons twee-jarige in gekom het’.

Ek probeer onderskei tussen wat spoke opjaag en voorbereiding tref vir n volgende keer is. Ek weier om konstant paranois te wees maar hoe hou ek op? Hoe maak ek seker ons twee jarige, wat onder in ons klein twee slaapkamer huis slaap, is veilig? En dan die groot strik vraag. Sê nou hulle kom in. Sê nou die sekuriteit is op pad maar hulle is in my huis hoe kom ons by haar uit.

Sy lê langs my in ons bed salig onbewus van haar ma se bekommernisse. Philip is by n werksfunksie. Ek lê my hande op haar neer en bid. God dank ek glo in ‘n opper gesag. Ons gaan doen wat ons kan maar dan moet ek dit in Yahweh se hande los want hoor my, ek gaan mal raak.

# Ek het die ‘n paar dae na hulle by ons ingebreek het einde Junie 2018 geskryf.

As ouers boelies is

alexDaar is ’n seuntjie in my dogtertjie se klas wat in pleegsorg is. Hy is nou twee jaar oud en het ’n jaar gelede by die skool aangesluit. As eenjarige het hy belt-hale oor sy boudjies gehad. Hy is uit die sorg geneem van wie ookal nie na hom gekyk het nie en het aanvanklik bietjie rond geswerf tussen blyplekke. Ek onthou hoe ek gesien het hoe daai klein lyfie wemel en probeer keer het toe daar aan hom gevat word om sy doek te ruil.

Alex is ’n handvol. Hy byt, spoeg en skop en om die klas te ontwrig is sy gunsteling stokperdjie maar hy’s twee jaar oud. My hart het al byna gebreek as ek met hom gesels en iets wys en hy noem my mamma en wil saam ons huis toe kom. Hy noem almal mamma of pappa wat vir hom aandag gee. Jy kan sien hy soek so graag iemand wat nét syne is. Hy is nou al vir net minder as ses maande in ’n pleeghuis met omtrent 12 kinders. Die moeder van die huis ontferm haar oor hom en probeer die mamma-rol vul maar daar’s soveel uitdagings.

Ek was lanklaas in my lewe so mismoedig oor die mensdom. Ouers in ons dogterjie se klas het oor Alex begin kla. In plaas van om liefde en geduld te wys. Die pleegsorg ma het ’n pragtige boodskap aan die ouers gestuur om te sê Alex ontvang terapie maar hy is deur baie trauma. Dit gaan tyd vat want die mannetjie is baie kwaad en kry vreeslike nagmerries. Dae na die boodskap was daar weer ’n stortvloed van klagtes want Alex skreeu en het iemand gebyt.

Ek kry skaam om aan die spreekwoordelike ‘same whatsapp group’ as van die ouers te behoort. Die een stuur gister “kan juffrou asb sê wie my kind gebuit het” met ’n foto van die bytplek. Ek moet op my tande byt om nie iets snedig te sê en sy spelling te korrigeer nie. Watter volwasse man kan nie byt spel nie? Toe die skool een pa inlig alle kinders byt het die pa die vermeltelheid om vir die skool te sê “my kind sal dit nooit doen nie want hy’t ouers” – dit was nou nie op die Whatapp-groep nie want dan sou ek onomwonde nie diplomatiese Carla kon wees nie. Hoe hartloos, hoe selfsugtig kan jy wees?

Alex gaan vir die res van die week nie by die skool wees nie. Ek weet nie of hy gaan terugkom skool toe nie. Sy verjaarsdagpartytjie sou Vrydag wees maar dit is gekanseleer. Ek is so teleurgesteld. Dis mense wat veronderstel is om te verstaan. Wat ook twee-jariges het en wat weet alle twee-jariges, alle kinders, is soms ontmoontlik. Hoe blameer jy ’n klein kleuter?

Daai klein lyfie wat nog net tweewoord-sinne kan sê. Die seuntjie wat onnoembare goed mee gebeur het en sukkel om sy woede te hanteer verwerp ons as ’n samelewing weer ’n keer. Maar dis mos oraait want nou’s hy iemand anders se ‘probleem’. Out of sight, out of mind…

“Wie’t bloedjie gebyt??? Daar sal iets gedoen moet word oor die byter”. Lui nog ’n ma se boodskap vandag. Die ironie? Alex was nie eens by die skool nie want ALLE twee-jariges byt!

Ek het nou ’n lang e-pos vir die skool getik. Als gesê wat ek wou soos ons het ‘n sosiale verantwoordelikhede teenoor kinders soos Alex en ook duidelik gesê “ek is gatvol dat net die negatiewes en onredelikes se stemme gehoor word in ons samelewing”. Ons kan nie kla oor misdaad, gebroke families en die matriekslaagsyfer as ons kinders soos Alex nie leiding gee nie. Waar dink hulle beland sulke kinders sonder hulp en liefde en omgee en toewyding? In die tronk. Hulle word die moordenaars, diewe en alkoholiste.

“Dit niks met my te doen nie,” sê een en dit maak my net meer kwaad. “Ek gaan maar uit dit uit bly,” sê ’n ander en ek wil skree.

Julle ek was lanklaas so mismoedig oor die mensdom.

 

#Alex is nie sy regte naam

Vandag was ‘n lemoen

orangeVandag was ’n lemoen wat taai en soet was. Met elke hap het die sap al langs my arms tot op by elmboë gedrup. En ek wil nog he.

Ek wil dae soos vandag onthou sodat ek eendag wanneer iemand vir my vra ‘as jy ’n dag sou kon oorkry, watter dag sou dit wees’, ek ’n dag soos vandag sal kies. Ek wil hom oproep en weer die sonskerm ruik, Philip se lag hoor en Leah se klein taai handjies wat om my nek slaan voel.

Ons drie het geswem en gelag en ek het vir Leah die gogga-lykies gewys wat saam geswem het. “Gogga gaan my nie byt nie” het die twee-jarige krulkop gesê. Ons het oorskiet piesangbrood geëet en ’n spanspek so ryp sy vlees lyk soos die son. Ek het tee gedrink uit my Oosterse-teepot en byna ’n uiltjie geknip maar eerder ’n boek opgetel en geluister hoe Philip en Leah saggies snork.

Philip het later agter my kom staan toe ek orde in die kombuis probeer skep en my in my nek gesoen. So ’n bekende gebaar maar elke keer een wat my hoendervel gee en laat glimlag. Ons het wyn gedrink en gesels. Oor alles en niks.

Ons het speelgoed opgetel net om dit later weer te doen. Ons het wegkruipertjie gespeel en einas beter gesoen.

Vanaand bid ek dat die hemel dae soos vandag het.

 

Gesprek in ‘n pantjieswinkel

foto.jpegGister stop ek by ‘n pantjieswinkel naby my huis. ‘n Verkoopsman met ‘n netjiese knopieshemp begroet my. Sy hare is styf gejel soos ‘n lid van ‘n boy band in die vroeë 2000’s. “Het julle hout bunker beds,” vra ek. Ek volg hom soos ons deur die winkel stap en soek. “Wat van die,” vra hy en wys na so ‘n dun aluminium bedjie. “Nee hel, dit is vir my dogter se kamer maar dit moet darem ‘n grootmens ook kan hou,” sê ek. Hy vra my hoe oud Leah is en voor ek nog kan sê twee vertel hy hy het twee kinders 13 en 8 jaar oud.

“Ek was vir 12 jaar getroud  maar my vrou het my verlede jaar gelos vir ’n 24-jarige ou. Ek sien net die kinders elke tweede naweek. Dit gaan nou blykbaar nie goed met die nuwe verhouding nie maar ek kon dit voor die tyd al vir haar sê. Sy’t nou haar bed gekies. Die kids kla ook,” sê hy. Daar is nie bunk beds in die winkel nie en ek loop na my kar toe maar hy hou aan praat en volg my. “Shame,” sê ek want ek is eintlik haastig en ek probeer die gesprek kortknip.

Met my deur al oop hou hy egter aan gesels. “Ek het nou ’n meisie gekry. Sy sê sy wil getroud wees met ’n kind op pad voor sy 30 is. ’n Vrou so na aan my hart,” sê hy en lag. “Dit sal lekker wees om weer so ’n klein lyfie te hê om vas te hou.” Ek knik en glimlag. “Ja jong, hulle is maar oulik as hulle so klein is,” sê ek en klim in my kar. Ek maak al die deur toe maar draai toe maar die venster af – ek wil nou nie ongeskik wees nie.

“My kinders het ook bunk beds gehad. Hulle was mal daaroor maar my seun het een keer lelik seer gekry toe hy af geval het. Hulle slaap nie meer op bunk beds nie. Ek weet eintlik nie wat van die beddens geword het nie. My ex het dit saam haar gevat. Hoekom weet ek nie want net my seun het nog daarin geslaap,” sê die Boyzone-lid. (Ek weet nie hoe hy so baie in ’n sin inkry nie en ek sweer hy het nie een keer asem gehaal in daai hele sin nie.)

Gisteraand vertel ek vir Phil van die bizarre gesprek. Hy lag. “Hoekom vertel mense net sulke goed vir jou? Niemand doen dit ooit met my nie”. Hy klink verlig dat dit nie met hom gebeur nie. “Ek weet nie. Ek het nie eers terug gepraat nie,” sê ek.

Dit beaam my teorie. Alle mense wil hulle stories vertel en die moral of the story?

As jy skindernuus soek vra net vir bunk beds by die pantjieswinkel.

Om hemelsnaam sê iets!

domestic v

In die afgelope twee weke het ek met twee vrouens gepraat wat deur hulle wederhelfdes aangerand is. Ek het nog altyd vas geglo vrouens wat staan vir dié twak is uiterse swakkelinge maar ek was verkeerd.

Tracy het daai dag met my gesels in haar oom se tuin. Reg oorkant haar ou huis. Sy het vertel sy is net na agt uur op oukers verlede jaar op haar knieë gedwing deur haar man van 10 jaar. Buite haar huis op die sypadjie in sesde laan, Roodepoort te aanskoue van familie en bure het hy haar met ’n panga teen die keel gedreig. Hy het glo asetoon-chemikalië in die ander hand gehad en gedreig hy gaan haar aan die brand steek. Sy het nie gedink hy sal dit doen nie “ maar toe doen hy dit” – met sy duim flik hy oor die lont van sy sigaretaansteker en steek haar aan die brand. Net so. Voor haar seun.

Wat my bybly van Tracy is haar onwrikbare positiwiteit. Sy wil, ’n maand na die aanval, weer werk en neskop en haar seun by haar hê. Sy lag vir haar eie grappies en laat my ook ’n paar keer hardop lag. Sy spot so ewe dat toe hy haar glo met die panga dreig sy net hoop hy kap nie haar arms raak nie. “I don’t want a stompie you know”.

Haar man het haar nie weekliks of selfs maandeliks aangerand nie. Sy het van omtrent 4/5 gevalle vertel in die tyd wat hulle getroud was. “En toe eskaleer dit so erg”.

Dan was daar Mercedes wat vir twee jaar deur haar kerel aangerand is. Sy sê die houe het soms weekliks op haar neergedaal oor die mees onbenulligste dinge. Sy’s ’n mooi vrou al is sy al in haar 50’s. Sy is so fyn soos ’n hottentotsgod en haar bewegings net so elegant. Sy was voor die verhouding nog nooit aangerand nie. Sy vat haar tyd om haar storie te deel en aanvanklik stort sy nie ’n enkele traan nie. Sy het om hulp gevra, talle maal maar sy kon nie wegkom nie. Sy wou nie want sy sê sy wou hom help en sy was lief vir hom.

Ek dink steeds sulke mans verander nooit en vroue moet so gou moontlik spore maak maar ek het baie meer empatie met vroue wat in die tipe verhoudings bly. Die innerlike wroeging, die hoop dat hy ’n omeswaai gemaak het wat verpletter word. Die letsels wat die vroue dra, nie net fisies nie, is onmiskenbaar.

Wat my bygeval het is hoe mense telkemaal anderkant toe kyk. Die feit dat mense van die mishandeling weet en niks doen nie maak my woedend. Die verskoning ‘dit het niks met my te doen of dis persoonlik’ just doesn’t cut it. As jy dit vermoed – sê iets. Moenie net anderkant toe kyk nie. Dalk sê sy ‘dis niks’, dalk vertel sy sy het geval maar net dalk sê sy ‘ek’t jou hulp nodig’. Jy kan die reddingsboot wees wat dié vrou voor gewag het.

Vir diegene wat in so ’n situasie of verhouding vasgekluister is, daar is hulp.

Hier is organisasies wat sal help, daar is nog tien talle meer.

POWA https://www.powa.co.za/POWA/ – 011 642 434/6

Stop Gender Violence http://360online-dev8.co.za/  0800 150 150

The Trauma Centre – http://www.trauma.org.za/ – 021 465 7373

 

Mooinooi: Die kinderskoen wat by my spook.

foto

Hier is baie spoke, dink ek. Eintlik glo ek nie eers in spoke nie maar toe ek die huis in Moonooi binne stap waar die beweerge moordenaars van Joey en Anisha van Niekerk gewoon het, kry ek hoendervleis en ’n knop in my keel. Ek sê ’n vinnige gebed en toe’s ek braaf genoeg om in die donker maag van die huis in te stap.  My kollega aarsel. “Wil ons regtig foto’s hê daarvan?” wil sy huiwerig weet.

Daar is klere orals gestrooi en dis vuil. Sigaretstompies is nerfaf gerook en lê in die hoeke van die huis. Daar is ’n kelder in die pens van die huis en onwillekeurig dink ek aan ’n ‘torture chamber’. Hier iewers op die werf het  Joey en Anisha moontlik hulle laaste asem uitgeblaas dink ek maar ek stop die gedagte in sy spore. Daar’s nie nou tyd om so te dink nie. Ek loop rond en praat met mense op die werf en kyk hoe die DBV lomp ’n perd op ’n trailer probeer laai.

Daar’s ’n stroompie waar die polisie omgedelwe het omsoek na die liggame van die vrouens. Aan die agterkant van die huis lê ’n geroesde graaf langs wat blyk ’n graf te wees. Die gat kan nie lank terug gegrawe gewees het nie, dink ek, die kante is nog nie verweer deur water en wind nie. Ek loop weer in die huis in. Daar lê ’n pienk dogtertjie sandaal in die middel van een van die kamers. Die kaste staan oop asof iemand haastig gepak het maar meeste van die kinderklere is nog hier. Die klein 2-3 jarige broeke en hempies is uit plek uit in die grillerige huis. Maar hier’s nie speelgoed nie. Hier’s nie een pop of blokkie of ’n swart skopfietsie nie.

Die ‘baasbrein’ het ’n drie jarige dogtertjie wat hiér tussen die gemors en rubbish gebly het. “Het kinders hier gebly? Dis dan orals gevaarlik,” sê my kameravrou wat nes ek ook ’n klein dogtertjie het.

Dan begin my gedagtes weer dwaal na wat moonlik daai Sondag gebeur het hier op die plot. Maar ek stop die gedagtes weer. En ek sê weer ’n kitsgebed op ‘Ag Vader, asseblief moenie dat daai dogtertjie hier gewees die dag nie’.

Ek het myself beskerm daai dag want om te bespiegel en te dink wat Anisha en Joey daai verskriklike nag deur is sou net te erg gewees het. Ek het gedink ek sal die storie in boksies in my brein kon wegbêre sodat ek net fragmente, soos benodig, sou kon oopmaak. . En dan is dit iets soos ‘n skoen wat mens dwing om te kyk. Dis soms die mees onwaarskynlikste goed wat weke na ’n storie nog by mens sal spook.

Ek wil net nog ‘n lyfie hê

Ek smag na nog ‘n lyfie. Ek wil hom teen my maagwande voel rem en klein voetjies teen my blaaswand voel.

Eintlik het ek swangerskap die eerste keer verpes. Al wat dit die moeite werd gemaak het was Leah en omdat ek geweet het sy word mens in my pens.

In my geestesoog sien ek reeds sy pienk lippies wat soekend na moedersmelk oop en toe gaan. Ek wil vir Leah ‘n boetie hê wat haar soms teen die mure uitdryf en haar vreesloos beskerm en sy vir hom. Ek wil ‘n seuntjie hê wat Philip se familiename sal voortdra en wat soos ‘n woelwater deur die huis sal hol en balle teen my grys mure gooi.

Ek wil net nog ’n lyfie hê, ’n seuntjie wat duisendpote in sy sak druk en met blikkarretjies in die stof speel.

En ek voel skuldig omdat ek so ongeduldig is. Ek weet daar is mense wat jare sukkel en eintlik probeer ons nog nie so lank nie maar die onsekerheid en wag en ‘wat as’ en ‘ek dink dis die maand’ en ‘nee, ek’t begin’ maak my mal. Ek oor-annaliseer, oor-dink, oor-bid, oor-reageer. Ek wil nie so wees nie. Ek wil nie elke simptoom van swangerskap oor en oor google nie.

Ek wil net nog ‘n lyfie hê. Vandag wil alles my maak huil. Ek’s nooit so nie. Asem in, asem uit.

As ek die dag twee strepies op ‘n stokkie kry sal ek my bes probeer om nie te wens vir ‘n seuntjie nie want die Here hoor my.

Ek wil net nog ’n gesonde lyfie hê.