Kom kyk net

Elke weeksdag kom die manne van De Rust bymekaar by Ray’s coffee shop, ‘n katspoeg voor jy uit die dorp uit ry. Hulle drink hulle koffie en gesels. My ma glimlag en sê hulle skinder meer as die vrouens op die dorp. Oom Berry boer met skape en beeste maar my pa sê hy moet eintlik nie boer nie, hy’t nie vee nie, hy’t troeteldiere want elke skaap en bees het ‘n naam. Oom Berry is sommer vir die hele dag omgekrap as die slagpale sy diere kom haal. Hy sê hy kan dit nie oor sy hart kry om hulle self te loop vat nie.

Woensdagaand kon ons kies tussen wildspastei of prawnkerrie op in die straat by Nicky en Soon. Hulle het ‘n restaurant wat net ontbyt en middagetes bedien – behalwe op Woensdae. Daar is ‘n groot haan voor die plek en as hulle oop is, word ‘n lap oor die haan se stert gegooi. Nicky en Soon is eksentriek. Met die intrapslag is Leah gefassineerd want Nicky dra ‘n “top hat” en sy grys hare hang oor sy skouers. Ons smul en ek en Monique spits ons ore om al die mooi gesegtes en woorde van die mense hier te onthou. “My kombi is in, hy kry nuwe sitte,” vertel die oud-onderwyseres by die tafel langs ons vir my ma’le. Sy karwei elke oggend amper 40 kleutertjies na haar kleuterskooltjie toe. Sy doen dit verniet. Sy het die skooltjie begin omdat soveel van die kinders hier nie skool gereed is nie.

Gister het ons ‘n 9.5km-staptog aangedurf en het ons deur ‘n vallei na De Rust gekoekeloer. Ons het op Oom Pieter se plaas gaan stap. Dit het by tye gevoel of ons deur ‘n alwynoerwoud stap. Hy is die vierde generasie Schoeman wat hier boer en die hoofstraat is na een van sy voorsate benoem. Vorige keer het ek en Philip ook twee volstruis-femurbene by hom gekry. Dit gaan ons voordeurhandvatsels eersdaags wees.

My ma en pa se gastehuis, House Martin, voel soos ‘n ou herehuis maar nes die Venters kan, voel jy tuis. Dit is in 1885 gebou en nie te lank gelede het ‘n tannie in haar 90’s hier kom kuier. Sy het vertel hoedat sy in die huis, saam haar 11 sibbe gebly het. Haar pa was die skoolhoof op die dorp. Nou is dit die mooiste gastehuis. Dis die klein goed wat ek sien gaste na gek is – die croissants, vars vrugte, scones, koffie, tee en liefde wat my ma vir ontbyt bedien. Die stories wat my pa vertel, die eerlikheidskroeg waar geen drank ooit verdwyn sonder dat gaste betaal nie, die moerkoffie en tuisgebakte koekies in die kamers. Geen wonder hulle het ‘n 9.3 rating op booking.com nie. Mense wat hier oorbly wil bloot nie ry nie.

Hier is mense wat net hierdie gebied ken want hulle en hul ouers het hier groot geword. Daar is mense wat inkommers is en wat in ‘n ‘vorige lewe ‘n A8 gery het’ en besluit het om hier te kom asemskep en nog nooit weer terug getrek het nie. Hier is mense wat die wêreld plat gereis het, vir 25 jaar in die VSA gewoon het maar almal kry ‘n plekkie hier met die Swartberge wat hulle toegooi in sy skadu. Selfs die vierde generasie boere verwelkom jou met ope arms want “jy wiet, mens se kop moet nie klein word nie. Mens het inkommers nodig”. So het een boer my vertel toe ons tussen die hange van Meiringspoort gaan braai het.

Ek het nog nie eens oor Meiringspoort, die Klaarstroomhotel, Kangogrotte ens geskryf nie. ‘n Dag in die kontrei is gans te min. Kom kyk. Kom stap. Kom gesels. Jy sal nie net welkom wees nie, jy sal nooit wil ry nie. Kom net julle

 

.

 

 

Advertisements

2 thoughts on “Kom kyk net

  1. Jy is reg, Carla. Luister na die ou uit Nederland wat in april 2017 10 dae gebly het op De Rust in Housemartin. Ek weet niet waar om te begin sê hoe mooi dit is om bederf te word deur jou Ma. En jou Pa, wat bekommerd is oor mooi dinge wat ek moet gaan doen. Ik dink aan die donderweer https://youtu.be/2vHC7u-Gf9Q. Ons het toevlug gekry in jou Ma en Pa hul kombuis (jy weet want jy was ook daar, met Philip en Leah) waar ons in die lig van kerse smaaklik het geëet van die bredie wat julle Pa en Philip gekook het. Ek het met julle saamgegaan na ’n toneelstuk. Dit het gevoel soos familie. Ek het my regtig tuis gevoel. Ek kom weer.
    Mooi loop, Jos Sutmuller

    1. Liewe Jos. Hoe lekker is dit om van jou te hoor. Ek’s baie bly jy het die Klein Karoo so baie geniet en tuis hier gevoel. Ek onthou die storm, die toneelstuk en daai bredie al te goed!!! Sien uit om jou weer by die KKNK te sien. Groete!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s