Dubai se reën ruik anders

Ek het die uit my ma se oogpunt geskryf. Ek weet sy mis SA onsettend so die was net sodat sy weet, ek verstaan. 

Dubai se reen

Ek kyk na die stil woestyn wat geen teken van lewe beur nie.  Die sandkorrels swem saam in ‘n see van bruin en ek kyk af na my voete wat die kleur van die woestyn naboots.  Die dag is stil en anders as my land hoor ek geen sonbesies nie, daar is geen ritseling van wind oor grasvlaktes nie.  Tog word ek onkant betrap toe ‘n parmantige druppel tussen my tone land.  Ek kyk op na die lug, ‘n speelbeeld van sand met enkele wolke wat lui van hitte na mekaar toe beweeg.  Ek mis die reuk van reen en ek mis die reuk van my land wat nat word, dink ek in gedagte.    Dis asof die landskap nog tyd nodig het om die kuns van die reendruppel se reuk aan te leer.  Om te leer hoe die reen die aarde moet raak, soms rustig en rakelings ander kere roekeloos maar rats.  Maar reen is ‘n baba in die kontrei.  Tog trek ek die effense reenreuk diep in my longe in, soos my eerste nikotien as ek van my land af terug keer na my huis.  Hmmf, verwarrend dat ‘n huis en “behoort plek” nie eenders is nie. 

Die druppels dans anders hier op die woestynsand die klank is dowwer en my Hoëveld-brein wag vir ‘n blits. Ek vee ongeerg die hare uit my gesig uit en verneem dat saam met die woestyn se reen dat ek hier, vandag, in die Moslemland my voete sal vind, hoe strompelend ookal.  Die reen kondig vernuwing aan en ja, dit vang mens soms onkant en soms sonder sambreel.  Ek trek weer aan my sigaret en draai in die rondte in die hoop dat ek hier my “behoort-plek” kan vind.  Glo my, ek smag na die reuk van reen, na dik spinasie wat ek sonder gesukkel kan groei, na klanke van my taal wat van talle tonge afrol, ek mis ‘n duidelike ronde “rrrrr”.  Maar die woestyn en sy stilte het al ‘n bywoner in my hart geword.  Die beton-oerwoud is nou wel nie my idee van ‘n besienswaardigheid nie maar darm as ek huis toe gaan vind ek vrede. 

Ek word gereeld gevra of ek terug sal gaan na my hartshuis.  My binneste se onomwonde ja maar dis asof my hart my belet om so ver te dink in die vrees dat dit teleurgesteld gaan wees.  Die weskus roep my.  Nog ‘n paar druppels tref my en ek wonder so by myself waarom dit inelkgeval in die woestyn reen.  Dis asof die wolke die sand terg.  Asof hul se “Wepepepepe en wat nou he?”. 

Die reen kielie my tone en nes daai vakansies by Gordonsbaai begin die wind die sand teen my bene slaan.  My ou herinneringe is so vol vreugde dat ek nie geweet het of die nuwe land soveel nuwes sal kan oplewer nie.  Tog vind ek weer vreugde in die kleiner dinge, my katjiepiering wat ek uiteindelik hier in die Dubai-sand en -weer kon kry om te blom, my eerste blom in Dubai.  Die glimlag wat my mondhoeke raak as ek ‘n Suid-Afrikaner man met sy kaki hemp en Grasshoppers sien in ‘n winkelsentrum.  As iemand onverwags terug praat in my taal in die middel van Spinneys.  Om te sien hoe my kinders ontwikkel en volwasse word en hoe my man soveel meer kalm is as voorheen bied ‘n ander tipe vreugde.  ‘n Vreugde a.g.v die wete dat ons Suid-Afrikaners is en dat ons as Venters enige ding saam kan trotseer. 

Ek mis die Hoeveld donderstorms. Ek mis die koue reen en die geluide daarvan op ‘n sinkdak.  Ek mis die reuk van die grondpad by die dam as dit gereen het.  Ek mis die waterlyn wat opstoot en die mense wat regoor die land na die sluise kom kyk.  Ek mis dit.  Tog ondervind ek soveel ander dinge hier wat my ook met vreugde vul.

Die reendruppels begin nou harder neerval en ek koes-koes kar toe.  Maar vir ‘n oomblik of twee ruik ek die reen.  Dis nie dieselfde reuk nie maar tog, as ek oplet, ‘n reuk wat ek dalk ook eendag in my land van my huis (hier) gaan mis.

~ deur carlaventer op April 6, 2010.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: